Dis 05h00 die oggend en die span kom by SARIE se hoofkantoor in Kaapstad bymekaar. Buite is dit vreemd warm vir 'n Junie-oggend. Ons is baie opgewonde, want dit beteken die weer gaan saamspeel.
Tot ons skok begin dit om 07h30 reën!
Almal se moed sak tot in hul skoene. Ons moet dan vandag die modestorie vir die lente-uitgawe skiet!
Ons wag twee uur lank vir die reën om op te hou. Arme Danielle, die model, is besig om te verkluim van die koue. Nietemin gee sy vir ons haar vriendelikste lente-glimlag. Dinge verloop nou vlot. Romi, die fotograaf, neem die mooiste foto's. En die hele span is geïnspireerd.
Danielle is nét aangetrek en staan gereed vir die volgende foto toe daar skielik 'n gegil is en die hele span in verskillende rigtings spat.
Romi stap met 'n slang aan haar arm die kamer binne. Die enigste ander persoon wat ook dapper genoeg is om dit vas te hou, is Danielle.
Ek gril my morsdood! Die naaste wat 'n slang aan my mág kom, is in die vorm van 'n belt van kuns-slangvel.
Die dag sluit rustiger af met geen verdere onverwagte verrassings soos reën of slange nie.